George Herald | Gebaretaal Gevier Met ATKV

GEORGE NUUS – ‘n Programaanbieding deur die ATKV-tak Sommer Net Ons van Pacaltsdorp om gebaretaal onder die loep te plaas, was ‘n onvergeetlike ervaring wat die horende gehoor ‘n openbarende kykie gebied het in die leefwêreld van gehoorgestremdes.

Die program is op Saterdag 18 Oktober aangebied in samewerking met DeafSA en die George-munisipaliteit as deel van Sommer Net Ons se Hande Praat Afrikaans-projek.

Toe taklid Ruzanne van Beulen nog op die skoolbanke in Robertson was, het haar skool se uniforms dieselfde spot ontlok as dié van die skool vir dowes in Worcester omdat dit baie eenders was. Dit bly haar tot vandag toe by en het die begeerte in haar wakker gemaak om wanpersepsies op te klaar en inklusiwiteit vir gehoorgestremdes te bevorder.

“Met Hande Praat Afrikaans wil ons gehoorgestremdes deel maak van die 100-jarige vieringe van Afrikaans. Dis ‘n opvoedings- en bewusmakingsprojek om die gaping tussen die klankwêreld van Afrikaans en die visuele wêreld van gebare te oorbrug,” het Van Beulen gesê.

Elke woord wat tydens die program gepraat is, is in gebaretaal getolk deur ‘n tolk van DeafSA, Susan Munroe van George, en gebaretaalonderwyser van Carpe Diem, Leana Jansen van Rensburg.

Die onderskeie sprekers, wat ‘n gehoor van grootliks skoolkinders gehad het, het boeiende verhale gehad om te vertel. Vicki Fourie, ‘n voormalige Mej. Doof Suid-Afrika en deesdae rolprentmaker en motiveringspreker, het op ‘n treffende manier van domino’s gebruik gemaak om haar boodskap oor te dra.

Sy het dominostukke een vir een uitgepak wat elk ‘n besluit deur haar ouers of haar self, en geleenthede of hindernisse op haar lewenspad voorgestel het wat haar uiteindelik gelei het tot waar sy haar vandag uitleef deur ander te inspireer – met ‘n stem wat sy aanvanklik as ‘n hindernis beskou het.

Die dowe George-skilder, Marnitz Steyn, het vertel hoe hy skool op ‘n vroeë ouderdom verlaat het om eerder sy kuns te beoefen. Hy het gerebelleer teen sy doofheid en die dowe kultuur. Deesdae omarm hy dié kultuur en is tans, op ouderdom 41, besig om sy matriekeindeksamen te skryf.

Die sangeres Petronel Baard het ‘n roerende uitvoering gelewer van ‘n gedig van Van Beulen, Die stilte verstaan, wat sy getoonset het.

Hoërskool Garden Route (Mosselbaai), Pacaltsdorp en George, Hoër Tegniese Skool Eden asook lede van die ATKV-jeugtak Goue Sleutel van Mosselbaai het die geleentheid bygewoon.

Van Beulen het gesê die program was daarop gemik om die jonger geslag te leer om ander mense se manier van wees, hul kultuur en taal te respekteer.

Die kollig was op die dowe kultuur, maar die onderliggende boodskap het verder gestrek na ‘n reënboognasie waar kommunikasie en aanvaarding van mekaar se andersheid soveel meer kan bereik as vooroordeel en afsondering. Sommer Net Ons is vir seker besig om brûe te bou.

‘Dis ‘n opvoedings- en bewusmakingsprojek om die gaping tussen die klankwêreld van Afrikaans en die visuele wêreld van gebare te oorbrug.’ – Ruzanne van Beulen

Lees die artikel hierso.

Leave a Reply