Omtrent elke aftree oord het so ‘n spesifieke persoon. Daardie een persoon wat net eenvoudig na almal moet omsien om seker te maak hulle is oraait. Dit is mos elkeen van ons se Christenlike plig om uit te help. Ek is daardie besonderse persoon; ek dra die barmhartige baadjie met groot trots.
Elke oggend werk ek graag in my pragtuin. Vanoggend is dit heerlik koel, en ek geniet die koue gras onder my kaalvoete. Die tyd in my tuin is gewoonlik my tyd alleen, waar ek met my eie gedagtes kan wees. Maar ongelukkig het ek die laaste paar weke vir Abel nodig gehad. Hierdie verdomde knie van my begin al hoe meer problem gee. Dit is niks lekker nie.
Ek en Abel fokus eerste op die Petunias, wat in mandjies teen die koelte van die muur gehang is. Dan op die Varings, wat net elke tweede dag water benodig. My broodbome steek my elke keer wanneer ek dit versorg, so ek moet versigtig rondom dit loop. My gunsteling terug snoei bome, wat ek tans as struike laat groei, is die Johannesburg Gold. Wanneer die son op dit bak, is dit so goud soos my kleindogter se goue, blonde lokke. Ek het ook ‘n lemoenboom en ‘n vyeboom waarna ek en Abel kyk. En dan natuurlik het ek ook my granaat rooi bottlebrush bome wat om die hoek groei.
Diep ingedagte en gefokus, skoffel en skuif ek en my getroue helper. Daar hoor ek skielik mense se stemme. Ek kyk op, en sien langsaan is ‘n treklorrie in die oprit. O ja. Vandag is die dag. Dit is die nuwe buurman wat intrek.
“Nog ‘n ou mens!” kla ek onder my asem.
“Eskuus, het mevrou iets gesê?” vra Abel.
“Nee, nee. Jy misgis jou,” antwoord ek vinnig.
“Hi tannie!” roep iemand agter my. Ek skrik my boeglam, en die tuinslang glip uit my hand. Toe ek omdraai, sien ek ‘n jong meisie voor my staan. Sy stel haarself voor as Clarissa.
“Môre, meisiekind,” groet ek terug, “Ek is Anna, en ek woon al vir twaalf jaar hierso. Dit is die wonderlikste aftreeoord waarin ‘n mens kan leef.”
“Dis wonderlik,” sê sy en glimlag breed.
Ek haal diep asem, en vra, “Waarmee kan ek help?”
“Dis my pa wat hier langsaan intrek,” verduidelik sy. “Ek het gehoor dis ‘n goeie plek hierdie.”
Sy vat ‘n paar tree nader na my, en kyk versigtig na die huis agter haar voordat sy vertroulik verder praat.
“Tannie, my pa is nie meer baie lekker nie. Hy is ‘n bietjie siek…”
“Haai siestog!” sê ek. “Oudword is nie vir sissies nie.”
“Dit sal so gaaf wees as tannie so nou en dan inpop by hom. En net ‘n bietjie met hom gesels,” sê Clarissa.
“Geen probleem, my kind. Ek help altyd graag waar ek kan. In hierdie plek help ons mekaar,” stel ek haar gerus.
Die meisiekind sug van groot verligting. “Dankie tog, tannie. Ek sal dit regtig baie waardeer.”
En daarmee stap sy weg.
Dieselfde tyd wat Clarissa wegloop, kom my buurvrou van oorkant die straat, nader. Sy kyk die nuwe buurman se huis agterdogtig na.
“Né? Het jy gehoor?” vra sy.
“Wat nou al weer?” vra ek geirriteerd. Ek het nie tyd vir hierdie vrou se stories vandag nie. Ek wil in my tuin werk.
“Daai buurman het die vervloekte siekte. Ai siestog!”
Ek haal diep asem, en sug geirriteerd. “Watse siekte?”
“Alzheimer’s!”
“Alzheimer’s?! Foei tog! Is jy seker dis nie ‘n klug nie?” vra ek.
“Dit is die volle waarheid! Die volle, reine waarheid,” en daarmee stap sy weg, tevrede dat haar storie uiteindelik uit is.
Ek rol maar net my oë, en gaan aan met my tuinwerk. Ek gee vir Abel nog ‘n paar opdragte, totdat ek tevrede is en al die werk gedoen is. Teen die tyd wat ons klaar is, is die trek lorrie al weg. Ek betaal vir Abel sy weeklikse loon, en daarmee vat hy die pad.
Dis tyd om dié arme meneer te gaan ontmoet. Dis mos my plig om hom te verwelkom. Met ‘n groot gesukkel loop ek kombuis toe. Ai, hierdie knie gaan my nog probleme gee. Ek kry ‘n pakkie koekies uit die kas, en trek my plakkies aan. Ek loop maar stadig en versigtig tot by die huis langsaan.
Na my geklop, maak hy omtrent dadelik die deur oop. Hy is ‘n groot man, met breë skouers en ‘n ernstige uitdrukking op sy gesig. Hy lyk nie baie vriendelik nie.
“Goeie more, meneer! Welkom by hierdie aftree oord,” sê ek vriendelik.
“Mmm…” sê hy en kyk af na die grond. Hy staar na my plakkies. Hy lyk beslis ‘n bietjie verward.
Ek kyk hom stip na. Miskien is daar tog ‘n waarheid aan my skinderbek buurvrou se storie. Dit het al gebeur dat sy die waarheid gepraat het. Dit gebeur bitter min, maar dit gebeur tog. Haar gehoor is besig om agteruit te gaan, en ek wonder soms of is sy nie maar net verkeerd hoor nie.
Ek glimlag breër vir die man.
“Goed. Kom ons begin weer van voor,” sê ek stadig en duidelik.
Ek gee eers vir hom die pakkie koekies
“Hierso, ‘n heerlike pakkie tuisgebakte gemmerkoekies vir jou,” ek beduie na die koekies, en dan sit ek my hand op my borskas. “My naam is Anna. Ek bly net hier langs jou,” praat ek mooi stadig, “Sien jy, menneer? Ons bly in dieselfde straat.”
Ek vat ‘n stap terug en wys my vingers na albei ons huise. “Hier is my huis, en hier is joune.”
Daar is geen antwoord van die man nie.
Nou raak ek ongeduldig. Ek het nie tyd hiervoor nie. My tyd op die aarde is min, en ek weet nie hoe lank gaan ek nog lewe nie.
“Nou maar goed dan,” sê ek stiptelik. “Welkom hierso!”
“Mmm,” is al wat hy sê. Hy staar na die gemmerkoekies in sy hand.
Ek sug. Die buurvrou is sowaar reg! Nog ‘n ou mens na wie ek sal moet omsien! ‘n Mens sou dink dat in ‘n aftreeoord daar minder mense sal kom as wat daar mense is wat gaan, maar nee. Die lysie raak net al hoe langer.
“Lekker eet,” mompel ek en groet hom halfhartig.
Die volgende oggend klop ek weer aan my nuwe buurman se deur. Dis mos my barmhartige hart se doel om te help. En hulp het hy eenvoudig baie van nodig. As ek dit nie doen nie, wie gaan dit dan doen? Soms voel dit asof die hele aftree oord nog eendag inmekaar gaan stort. Ek is die een wat dinge bymekaar hou.
Siestog. Die arme man is seker verward.
Na ‘n tweede klop aan sy deur, verskyn die man uiteindelik.
“Goeie môre, meneer. My naam is Anna. Ek bly hier langs jou huis. Ons bly in dieselfde straat, dieselfde omgewing. Daar is my huis. Sien jy?”
Ek staan weer terug en wys met die vinger na my huis, en dan na syne.
“Sien jy?” vra ek weer, ‘n bietjie harder.
Hy knik en kyk my grootoog aan.
Ai tog, hierdie mense! Hopeloos! Hulpeloos!
Môre sal ek myself weer moet voorstel. En oormôre.
En so gaan dit aan vir ‘n paar weke.
Tot eendag.
Ek word genooi na die skinderbek buurvrou se verjaarsdag tee. Nadat ek aankom, sien ek my buurman sit en tee drink in die sitkamer. Hy lyk rustig en tuis, asof daar niks aan hom makeer nie.
Daar is alreeds ‘n paar mense, en daar sit nog ‘n man, Hannes, aan sy regterkant. Hannes rook altyd soos ‘n skoorsteen daar onder in die straat. Ek is verbaas om hom hier binne te sien, sonder ‘n sigaret in sy hand.
Ek stap reguit kombuis toe. My buurvrou is besig om die kettel te kook. Ek vra haar saggies, “My hemel! Hoe het hy dit reggekry om self oor die straat te loop?”
“Hm? Waarvan praat jy?”
“My buurman. Hy het self oor die straat geloop!”probeer ek verduidelik.
“Natuurlik het hy oor die straat geloop. Hoe dan nou anders?”
Ek vervies my vir haar. Hierdie mense kan soms so onnosel wees.
Ek stap sitkamer toe en gaan sit aan my buurman se linkerkant.
“Meneer, dis weer ek. Die vrou van langsaan. Onthou jy my?”
“Dis sy! Die vrou wat ek jou van vertel het!” sê my buurman opgewonde vir Hannes. “Dit is sy!”
Ek skrik my boeglam. Die meneer praat sowaar! Vervlaks! Is hy te skaam om met vrouens te praat, of wat?
Hannes antwoord, “Jy het met my oor baie vrouens gepraat. Herinner my weer?”
My buurman verduidelik opgewonde, “Dis die vrou wat Alzheimer’s het!”
“Alzheimer se voet!” sê ek verstom. “Waarvan op hierdie liewe aarde praat jy?”
“Dis jý, mevrou. Jy klop elke dag aan my deur, en stel jouself voor. Elke liewe dag. Jy het Alzheimer’s!”
“Nee! Jy is die een wat Alzheimer’s het!”
Vir ‘n oomblik kyk ons geskok na mekaar. My barmhartige hart wil invou van skaamte.
“Dit was ‘n misverstand!” sê Hannes. “Hierdie vrou het beslis nie Alzheimer’s nie. Sy het die geheue van ‘n olifant. Jy kan niks by haar verby kry nie.”
Hannes begin te lag. Ek gluur hom aan. Wil die man tog nie asseblief gaan rook nie?
“O toggie! Ja, ‘n misverstand!” sê my buurman en begin saam te lag.
“Nee, dit was ‘n skinderstorie!” sê ek, en gluur my buurvrou in die kombuis aan.
Ek kan nie anders nie, maar om effens saam te lag. Maar wat ‘n vernedering!
Hannes roep die buurvrou in die kombuis, “Vrou, kom luister tog hierdie storie!”
Ek rol my oë. Ek weet sommer nou al hierdie storie gaan beslis sy rondte doen by almal vir ‘n paar weke. En ek is die een waaroor die mense gaan praat!