Asem

Die toergids praat hard en duidelik oor die bus se interkom, maar ek sukkel om te konsentreer. Ek is in ‘n vreemde land omring deur mense van my eie land. Hoort ek hier? Ek kry nie asem nie. Die blou serp om my nek wurg my, paniekbevange probeer dit tevergeefs losmaak.

‘Haal asem; diep asem,’ sê ek saggies. ‘In en uit, in en uit.’

Uiteindelik kry ek die serp los, en kan ek ‘n bietjie ontspan.

Hierdie reis, hierdie toer deur Israel, was nie ‘n goeie idee nie. My tydsberekening is vrot. Dit is nog nie spitsseisoen nie, maar daar is alreeds massas wat elke historiese plek omsingel. Die toerbusse staan styf in gelid in elke parkeerterrein. Gesprekke is ‘n Babelse verwarring van Russies, Chinees, Italiaans en Grieks. Daar is te veel mense en te min spasie.

Kerke,so baie kerke. Te veel kerke. Dit is oorweldigend. Rooms-Katoliek, Grieks-Ortodoks, sinagoges en moskees. Massief, reusagtig, indrukwekkend. Aanvanklik is dit asemrowend mooi. Maar dan word die patrone tot vervelens toe herhaal. Oor. En oor. En oor. Dit is nie waarvoor ek gekom het nie. Ek is op soek na die waarheid, nie verdraai nie, rein. Hierdie toer deur die Heilige Land, Jerusalem, word eintlik ‘n reis deur my binneste. Dit is asof ek net nêrens stilte en rus kan vind in hierdie chaos nie. Ek smag na vrede; my siel dors daarna.

Dit is ons laaste dag; die toerbus is vroeg-vroeg oppad na die Ein Gedi waterval, so 83 kilometer buite Jerusalem, omring deur woestyn. Ein Gedi is ‘n varswaterbron waaruit Dawid gedrink het toe hy vir Saul moes wegkruip. Ek is verlig om uit die stad te kom, want in die oopte van die woestyn kan ek beter asemhaal.

Daar aangekom staan ons eers buite die bus om die stilte reg rondom ons te waardeer. Dit is hemels. Ek maak seker dat ek eerste by die waterval is. Ek buk om uit die bron te drink. Onmiddellik tref dit my; die water ,ek het water gedrink die dag by die dokter se spreekkamer. Ek wil nie daaraan dink nie. Nie nou nie.

Die gids beduie na ons regterkant en verwys na die grotte waar Dawid en sy manne moes wegkruip. Het Dawid ook eensaam gevoel? Wou hy ook wegkruip en nooit weer deel te wees van die samelewing nie? Ek dink sy Psalms, liedere wat hy geskryf het; die pyn, die vrees en die isolasie.

Terug in die toerbus is my emosies is rou.

Die toergids kondig die volgende stop aan: Die Hoëpriester se huis waar Jesus in die kelder aangehou is tot sy kruisiging.

Was Jesus teleurgesteld omdat God hom nie gespaar het van sy pyn en verdriet nie? Ek het op die dokter se ondersoekbedjie gelê en die trane het onbeheersd gevloei. Het Jesus se trane ook so gevloei toe hy by die Tuin van Getsemanegebid het?

Ek gaan nie die kelder besoek nie; ek wag liewer in die toerbus saam met die bestuurder. Ek wag totdat almal weg is en maak dan my rugsak oop. Daar is pamflette van ons besoek aan Masada, die massiewe berg waar die Jode weggekruip het vir die Romeine. Wat ‘n surrealistiese ervaring! Ek wou hierdie berg die graagste sien, voordat ek…

Nie een van ons weet hoeveel tyd ons nog oor het op hierdie aarde nie. Wat is die uitslag van my biopsie? Is daar ‘n groter berg as die Masada wat vir my wag by die huis?

Ek haal nog ‘n pamflet uit my rugsak. Ons het nagmaal gehou op die Berg van Saligsprekinge, die toergroep het Afrikaanse liedere gesing; ek het nie saamgesing nie. Na die nagmaal het ‘n vrou vertel hoe sy in matriek begin blind word het. Sy is in daardie jaar gered en het haar eerste nagmaal gebruik. Die volgende oggend was haar sig volkome herstel.

Ek het begin huil. Die vraag was so duidelik voor my dat dit te eenvoudig geklink het: ‘Wil jy ook genees word?’ Ek het diep in my hart gewonder of so wonderwerk my ook beskore kon wees.

Ek haal ‘n sakkie met klippies uit my rugsak, opgetel op die strand voordat ons met ‘n boot oor die See van Galilee gevaar het. Misreën het oor die see gehang. Ons toergids het begin lees:

Die boot was al ‘n aansienlike afstand van die land af deur die branders, omdat die wind daarteen was … Kort voor dagbreek het Jesus na hulle toe uitgegaan op die meer. Toe die dissipels hom op die meer sien loop, was hulle bang.

Dit is ‘n spook’, het hulle uitgeroep.

Maar Jesus sê dadelik vir hulle: ‘Skep moed! Dit is ek. Moenie bang wees nie. ‘

‘Here, as dit U is’, antwoord Petrus, ‘sê my dat ek op die water na U toe moet kom.’

‘Kom,’ sê hy.

Toe klim Petrus uit die skuit, stap op die water en kom na Jesus toe. Maar toe hy die wind sien, was hy bang en het begin sink, en uitgeroep: ‘Here, red my!’

Dadelik steek Jesus sy hand uit en vang hom. ‘Jou geloof is min, het hy gesê, ‘waarom twyfel jy?’

En toe hulle in die skuit klim, het die wind gaan lê.”

Ek het met ‘n skok besef dat ek nie die geloof het om op die water te loop nie. Ek is nie Petrus wat dit sal waag en probeer nie. Ek kan net nie; dit is net te moeilik om te glo dat God my sal kan genees nie.

Ek gaan deur my foto’s op my foon: Die graf van Jesus. Verwarrend. Die Rooms-Katolieke, die Moslems en die Grieks-Ortodokse priesters het almal hul eie begrafplaas vir Jesus. Naby Golgota Ons is ook ‘n graf wat die meederheid Christene glo Jesus begrawe is. Wanneer jy die graf verlaat sien jy “HE IS NOT HERE, HE IS RISEN” agter op die deur gegraveer. Ouma het my lank gelede, na haar toer deur Israel vertel van hierdie woorde wat haar soveel nader aan Jesus gebring het. En my begrafnis? Is dit naby?

Die toerbus se deur wat oopgaan ruk my terug na die realiteit. Oë is rooi gehuil en ek hoor hoe snik ‘n paar mense. Dit is maar goed ek het nie saamgegaan nie.

Ons volgende stop is die Bad van Bethesda of ook die Huis van Genade genoem. Hier drentel ek rond op my eie. Volgens geskiedenis het ‘n groot aantal gestremde mense hier gelê – blindes, kreupeles, verlamdes. ‘n Engel sou kom en die water roer. Die eerste persoon wat in die water kon klim, is dadelik genees. Jesus het ook eendag hierdie bad besoek en ‘n 38-jarige verlamde man genees. Ek vind ‘n stil plekkie, en wonder of ek aan die water moet raak. Dit is nie die groot stap van geloof soos wat Petrus op die See van Galilea geneem het nie, maar dit is ‘n begin. Ek raak aan die water, en voel-voel aan my bors. Niks.Niks gebeur nie.

Ons laaste stop vir die dag is die Jordaanrivier. Teen hierdie tyd is ditbitter koud en dit reën sag. Ek besluit om in elk geval gedoop te word, want wanneer kry ek ooit weer so ‘n kans? Dit is dieselfde rivier waar Johannes die Doper vir Jesus gedoop het. Dieselfde rivier waar ‘n stem uit die hemel gesê het: ‘Dit is my geliefde Seun in wie ek ‘n welbehae het’.

Ek stap bewend in die rivier in. My lyf gaan dood, die water is ysig. Halfpad in wil my moed my begewe, maar iets dryf my. Die man bid vir my voor my kop onder water gaan. ‘n Warm gevoel skiet deur my. Ek kry nie meer koud nie, ek is lus om in die rivier te swem!

Iets is anders, daar het ‘n lig deur die donker wolke om my gebreek. Ek voel lig, asof al die lasste van my skouer afgly. Alle vrees en angs is afgewas. Ek koop vir my ‘n Ster-van-Dawid-hangertjie by die toeristewinkeltjie. Ek wil hierdie ervaring nooit vergeet nie.

Terug op die toerbus, sê die toergids dat hy ‘n ekstra besienswaardigheid as verrassing vir ons wil gaan wys, ‘n mensgemaakte baken, die Toring van Dawid.

Die plek slaan my asem weg. Binne die toring word Dawid se lewe uitgebeeld. Beelde en prente word teen die mure geprojekteer. Die musiek is betowerend. Dawid – eers ‘n skaapwagter in die velde van Bethlehem en dan word hy gesalf deur die profeet Samuel. Dawid, die digter, skrywer en musikant. Dawid, die voortvlugtige, uiteindelik koning, gevalle held en moordenaar wat om vergifnis smeek.

Ek dink aan my eie lewe: geboorte,grootword jare,drome en ambisies. Ek is net 30 jaar oud; te jonk om te gaan. My hele lewe lê nog voor my.

Na ‘n onvergeetlike vertoning by die Toring van Dawid, ry ons terug hotel toe. In my kamer koppel ek my foon aan die hotel se wi-fi.

Daar het ‘n epos gekom. Van my dokter. Die uitslag is bekend.

My hart klop benoud.

Die oomblik van waarheid het aangebreek.

Ek maak die e-pos oop. Ek lees dit deeglik. En lees dit nog ‘n keer.

Ek kan my oë nie glo nie: Die uitslag is negatief. Die knop is nie kwaadaardig nie.

Ek weet nie wat om te doen nie, wat om te sê nie.

Maar ek weet hoe ek voel. Daar is ‘n kalmte binne my. Ek voel so lig soos ‘n veer, iets in my diepste wese is genees op hierdie reis deur Israel. Ek kan my lewe vorentoe sien, hoe ek dit dag vir dag met albei hande gryp en elke oomblik waardeer. Ek hoor hoe waai die wind buite. Maar dit is stil binne my.

En dan…

In-en-uit, in-en-uit.

Ek kan asemhaal.

Leave a Reply