“Pappa, ek wil bergklim,” sê my 9-jarige seun vir my.
Dié stelling vang my onkant. Ons gaan klim dan nooit berg nie. Swem en fietsry sal ons doen, maar bergklim? Nie sommer nie.
“Seuna, hoe seker is jy?” vra ek versigtig.
“Doodseker, pappa. Kom ons doen dit! Ek is lus.”
“Nou toe dan. Watter berg wil jy uitklim?”
“Tierkop, pappa! Waar dan nou anders?”
Ek val amper van my stoel af. “Nou hoekom dan Tierkop?”
Hy dink mooi en diep. Die frons wys behoorlik op sy voorkop. “Want ek hou van die naam. Tier-kop, Tier-kop.”
“Reg so. Ek reël dat ons vandag bergklim.”
“Jitte, ek sien so uit daarna!” sê my seun entoestiasties.
Dit is hoog tyd, in elk geval.
‘n Uur later is ek en my seun reg. Tekkies, stapstokke, waterbottels en keppies is ons mee gewapen. My vrou het vir ons ‘n rugsak met padkos voorberei: heerlike kaas-en-tamatie toebroodjies, groen appels, peanuts en rosyntjies.
‘Sterkte, my man. Julle gaan die energie nodig kry,’ sê my vrou en sy groet ons.
Ek en my seun ry ‘n ent. Die son is alreeds hoog en warm. Dit is dan nog vroeg, nog net die begin van die lente seisoen. Binnekort verskyn Tierkop voor ons aangesig. Van vêraf lyk dit maklik; naby is dit ‘n ander storie. Ek parkeeer die Jeep onder ‘n groot boom. Ek loer na my seun voor ons uitklim.
“Is jy reg?” vra ek.
“Reg soos wat reg kan wees!” sê hy en spring uit die kar.
Sy entoesiasme laat my dink aan my oorlede pa. Wat as my seun ook ‘n liefde vir hierdie berg ontdek tussen die geharde klippe, Protea blomme en strome water? Wat dan? Ek probeer om nie daaraan te dink nie. Dit kon nie ‘n fout gewees het om hom hiernatoe te bring nie, want dit is tyd. Tyd vir hom om die storie te hoor.
Ons stap ‘n hele ent, voor ons by ‘n stewige bult kom. Dit is net die begin van ‘n lang en moeilike stap roete. Vier ure tot bo, en drie ure weer terug. Ek hoor hoe die watervalle ons lok na die berge.
“Hoor jy dit, pappa?” vra my seun, en stap aan sonder om te wag vir ‘n antwoord.
Ek skep moed, sit my sak op my rug, en volg hom.
Die natuur is asemrowend mooi. Vetplante maak oral hul verskynsel oppad boontoe. Hier en daar sien ons kleurvolle Namakwaland blommetjies. Die pad is ook maar grof, met die Karoo bossies wat teen ons bene krap. Ons sien ook natuurlik die Koning Protea blomme, wat ‘n paar jaar terug as ‘n bedreigde spesies verklaar is.
Van vêraf hoor ons hoe Bokmakieries vir mekaar sing. Bok-bok-mak-kik, bok-bok-mak-kik, bok-bok-mak-kik. As ek mooi luister, hoor ek ook Kingfishers en swaeltjies.
Na ‘n paar ure kom ons uiteindelik bo, totaal uitgeput. Ons albei sit op ‘n klip naby die groot rots; ek haal my rugsak af. Ons waterbottels is weer amper leeg en ons is papnat gesweet. Ek is dankbaar vir die koel windjie wat waai. Die uitsig op Worcester maak die stap die moeite werd. Alles lyk so klein van hierbo af; die stilte is wonderlik. Ek het vergeet hoe asemrowend mooi dit is om so oneindig ver te kan sien.
“Sjoe! Pappa het my nie gesê hoe moeilik dit gaan wees nie!” verbreek my seun die stilte.
“Ek het… Jy het net nie mooi geluister nie.”
“Oraait, oraait. Dit is nogal intens, hoor!” Hy staan op en strek sy arms. “Ek is lus vir ‘n appel,”
Ek gee vir hom een, en hy vat ‘n hap. Skielik verdwyn hy om die groot rots.
“Seuna? Wat maak jy?” vra ek en staan op. Ek volg in sy spore, en loop amper in hom vas. Hy fokus op iets, iets teen die rots.
“Het pappa hiervan geweet?”
“Geweet van wat?” Ek het nie ‘n benul waarvan hy praat nie.
“Kyk, hierso,” sê hy en wys met sy vinger.
My oë volg sy hand. Ek sien daar is iets teen die rots geskryf. Dit is uit Psalm 24: “Wie mag die berg van die Here opgaan…? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is…”
Daar is ‘n datum daarby. Ek weet waarvoor dit staan, en ek weet wie het dit gekerf.
“Hoekom ‘n datum?” wonder my seun hardop.
“Een van jou ooms het dit seker gedoen.”
“Hoe weet pappa dit?” vra my seun verbaas. “Ek het nie geweet julle het al Tierkop uitgeklim nie?”
“Ons het. Jou oupa, ek en jou drie ooms.”
“Oupa Freddie? Nooit! Regtig? Wanneer?”
“Glo my, dis moontlik. Jou oupa het dié berg ‘n hele paar keer geklim, nog voor ons imigrasie na Ierland.”
“Regtigwaar? Ek het dit nie geweet nie.”
“Nou kom sit, dan vertel ek jou.”
Ons stap terug na my rugsak, en gaan sit op die klip.
“Jou oupa was fanaties oor bergklim. Veral Tierkop,” begin ek versigtig te vertel. “Jou oupa het die hart van ‘n tier gehad. Hy het nooit moeggeraak vir hierdie berg nie, nooit gesukkel of geval nie.”
“Dit wil gedoen word. Ek het amper ‘n paar keer gegly!” spring my seun in. Ek sien die berg het alreeds in sy hart ingekruip.
“Ek en jou drie ooms is gebore in Suid Afrika. Maar toe imigreer ons Ierland toe kort na my veertiende verjaarsdag.”
“Ja, ja, ja. Ek ken daardie storie. Julle het vir vyftien jaar daar gebly en toe weer teruggetrek Suid Afrika toe,” val hy my in die rede.
“Laat ek die storie vertel, meneer,” maak ek my stem dik.
“Jammer, pappa,” sê hy. Hy glimlag.
“Toe ons hier land, raai wat was die eerste ding wat jou oupa gesê het?” vra ek my seun. Ek stop hom met my hand voordat hy kan antwoord.
“Jou oupa het gesê: ‘Tierkop. Ek moet na Tierkop toe. My hart neig soontoe. Ek moet weer daardie berg gaan klim.”
En ek los die storie daarso. Ek weet nie of ek verder kan vertel nie.
“Dis nogal intens,” sê my seun na ‘n oomblik van stilte. “Dis asof die berg… hom geroep het.”
“Ja. En toe gaan klim ons. Ek, jou drie ooms, en jou oupa. Dit was ons vier se eerste keer, maar dit was jou oupa se laaste keer.”
“Huh? Wat bedoel pappa?” Hy kyk my met groot oë aan.
“Ons het geklim, op ‘n warm dag soos vandag. Jou oupa was opgewonde, maar dis asof hy geweet het.”
“Wat geweet het?” vra my seun.
“Dat dit sy laaste klim, en sy laaste dag, sou wees.”
“Woah. Dis erg,” sê my seun saggies. Hy het skoon vergeet van sy appel.
“Toe ons bo kom, het ons hier naby gesit. Naby hierdie groot rots. En toe bid jou oupa.”
“Wat het hy gebid?” vra my seun.
“Iets in die lyn van ‘Uit die diepte van my hart: Dankie, Here. Vir die berge in ons lewens, asook tweede kanse.’ En toe kry hy ‘n hartaanval.”
“Sommer net so? Hier bo op Tierkop?”
“Ja, hier bo,” vertel ek hom. |’n Paar minute daarna is hy oorlede. Ons al vier het hom afgedra.”
“So dis waarvandaan die vers en datum kom?”
“Ja. Dit was seker een van jou ooms wat teruggekom het om dit te doen.”
“Het pappa weer Tierkop kom klim daarna?” vra my seun.
“Nee. Vandag is die eerste keer vandat dit gebeur het,” antwoord ek.
My seun is diep ingedagte. En dan sê hy, “Dankie dat pappa my gebring het.”
Ons drafstap die berg af. Ons gebruik ons stokke om ons balans te hou. Ek is diep ingedagte. My seun word hierdie jaar 10. Dit is ook vandag tien jaar vandat my pa oorlede is. Hoe weet my seun van Tierkop? Díe berg was belangrik vir sy oupa, en dit is ook belangrik vir my. En net so gaan dit ook belangrik wees vir my seun.
“Pappa, ek het nou weer energie. Kan ek by my pelle gaan kuier later vanmiddag? Ek wil hulle vertel van Tierkop,” vra my seun.
“Reg so, seuna. Jy kan maar,” antwoord ek. “Ek kan nie glo jy het nog die energie vir kuier nie. Ekself is skoon gedaan.”
Ek kyk vir oulaas na die berg met die naam Tierkop. Vir ‘n oomblik misgis ek my. Ek sien hoe my pa bo op die berg staan, trots en sterk. Hy kyk af op ons, en waai vir ons met sy blou keppie. So asof hy ons vir oulaas groet.
So is dit met die lewe en die dood. Met oud en jonk. Die lewe gaan aan en aan. Die eerste berg word geklim, en dan die volgende een. Net wanneer ons sig verloor het van die berg agter ons, is daar ‘n nuwe een wat voor ons lê. ‘n Nuwe uitdaging, ‘n nuwe son wat opkom.
“Kom, pappa!” skreeu my seun en bring my terug realiteit toe. “Die lewe wag!”