Dit is die dag voordat ek en my ma Kaap toe vlieg.
Ons beplan om eers Stellenbosch toe te gaan, dan Robertson, Gansbaai en uiteindelik Blouberg.
Ek voel alreeds onrustig oor die padreis, maar ek kan nie my vinger daarop sit nie.
Dit is vreemd, wat ek het nog nooit so gevoel oor enige iets wat ek al aangepak het nie.
My ma kom terug van die dorp af, en parkeer haar motor.
‘Vicki,’ roep sy vir my uit die garage uit. ‘Kom kyk wat het hier gebeur.’
Ek stap na haar toe, en ek sien daar is ‘n groot duik agter haar motor.
‘Iemand het in my vasgery by ‘n stopstraat. Ek moet more oggend ‘n verklaring gaan maak by die polisie.’
Ek omhels en druk my ma styf vas. ‘Ek is so verlig ma is oraait.’
Ons pak albei ons tasse daardie aand. Ek hou aan om dinge te verloor. Ek vergeet waar het ek dinge gebere, en ek kry nie my goed nie. Dit gebeur dan nooit met my nie; ek weet altyd waar is elke nuwe ding.
My ma bid saam met my. ‘Heilige Gees, help vir Vicki om te onthou. Ons bid teen hierdie gees van verwarring.’
Ek vertel my ma dat ek voel onrustig.
My ma antwoord: ‘Ek voel ook onrustig. Vreemd.’
My kopseer van die laaste twee dae is alweer terug. Dit kom en gaan, spring rond in my kop. Ek drink kort-kort Panados, maar dit help ook nie meer nie.
*
Die volgende oggend is ek en my ma by die lughawe in Bloemfontein, nadat sy haar klag ingedien het by die polisie stasie.
Ons boek in, en klim op die vliegtuig. Ek en my ma maak ons oë toe, en slaap. My sitplek is in die gang, so ek strek my een been uit om dit te laat ontspan. Ek is net besig om aan die slaap te raak, hier voel ek dit:
‘n Harde hou op my knie.
Ek maak my oë oop en ek sien die lugwaardin het teen ‘n volle spoed met haar trollie teen my knie gestamp.
‘Sorry ma’am!’ sê sy en loop weg met die trollie.
My ma het ook wakker geword. Ek begin huil van die pyn. Dit is onbeskryflik seer. Ek hou my knie styf vas teen my bors en probeer die pyn wegvryf.
Die pyn gaan nie weg nie.
‘Staan op, kyk of jy kan loop,’ sê my ma.
Ek staan op, ten minste kan ek nog loop. Maar dit eina geweldig wanneer ek my knie moet buig.
Ek huil trane, so seer is dit.
‘Ek hoop ek gaan kan loop met my hoë hake by die funksies waar ek moet praat…’ sê ek.
My ma is vies. ‘Die lugwaardin moet kyk wat doen sy.’
Ons land in Kaapstad.
My blou tas het ook seergekry.
Deur die pyn moet ek ons tasse stoot na die Car Rentals toe. By die opdraende kan ek nie meer nie. My ma help my, en ons doen dit saam.
Aangekom by Thrifty Rentals. Ek het alreeds die motor betaal, maar nou wil hulle nie ons motor vir ons gee nie want nie een van ons het ‘n krediet kaart nie, net ‘n spaarrekening.
Ons gaan na Avis toe; hulle kan ons ook nie help nie.
Ons haal diep asem, gaan terug na Thrifty. Die bestuurder het grasie met ons, en sê ons kan ‘n deposito maak. Ons sal dan net eers die geld heelwat later kry.
Ons vat dit, want ons is alreeds laat en ons is dankbaar vir die genade.
Ek sê vir my ma, ‘Ek en jy moet aansoek doen vir krediet kaarte wanneer ons teruggaan huis toe.’
In die motor geklim, ons ry na Stellenbosch en gaan kuier by vriende. Oom Roland en tannie Lucia, saam met hul seun Luke.
Ons het die lieflikste Great Dane, Sasha, gehad vanaf 2011 tot met 2014. Toe moet ons trek en ons het die Great Dane gegee vir tannie Lucia.
Vir die eerste keer hoor ek dat Sasha is oorlede. Ek en my ma is alleen en ek vra haar daaroor.
‘Wanneer het dit gebeur?’ vra ek.
‘Rondom die tyd wat jou pa oorlede is,’ antwoord my ma.
‘Dit is al omtrent twee jaar gelede. Ma moes my gesê het.’
‘Ja, ek moes.’
‘Van wat is sy oorlede?’
‘Sy het jig (gout) gehad.’
‘Haai nee man. Sy was dan nog so jonk.’
‘Ja, maar Great Danes lewe gewoonlik nie vir lank nie. Hulle kry maklik nierversaking.’
Ek is hartseer. Sasha was ‘n pragtige hond, het altyd wegkruipertjie gespeel met my kat. ‘n Regte gentle giant. Ek probeer om nie aan haar te dink nie.
Oom Roland braai vir ons vleis. Tannie Lucia se grammafoon speel in die agtergrond.
Die geselskap is boeiend en interesant. Dié gesin ken van ‘conspiracy theories’ en weet wat aangaan in die wereld se politiek. Ek vra al my moeilike vrae wat ek altyd vir my pa kon gevra het.
Ons kuier tot laat in die aand.
Die gas badkamer het net ‘n stort en nie ‘n bad nie. Ek het ‘n bad nodig vir my knie wat seer is. Ek besluit om eerder nie te stort nie en te wag tot ons by Robertson aankom.
*
Ons almal slaap laat. Ek en my ma neem fotos in die asemrowende tuin daar op die plaas terwyl ons wag vir die res van die span om reg te maak. Ons eet ‘n heerlike ontbyt by Richard Branson se plaas in Franschoek.
En daar is ek en my ma oppad na Robertson.
My knie voel beter. Ek loop nog snaaks – reguit en styf met die linkerbeen – want ek wil nie my knie te veel buig nie. Ek is verlig dat daar nie ‘n blou kol is of enigsins ‘n merk op die knie wys nie. Anders sou ek onderlaag moes gebruik het, want die rokkie wat ek Saterdag moet dra wys my bene.
Ek en my ma ry deur die pas vanaf Stellenbosch na Worcester.
Die berge is bekend; ek het hier grootgeword.
Ek het vanaf die ouderdom van sewe tot as 15-jarige op Worcester skoolgegaan by Lifestyle Christian Academy. Toe het my pa uit die bediening bedank, en ons het weggetrek. Sewe jaar later het ons toe weer teruggegaan Worcester toe. Ons was toe net drie jaar daar en toe trek ons weer.
Die berge is pragtig en prentjie-mooi soos altyd. Ons het gereeld hierdie pas gery, wanneer ons Kaapstad toe moes gaan of see toe. Ek het as kind altyd gekyk na die berge en gedink dit sal maklik wees om dit te klim en bo uit te kom.
Ek onthou die dag toe ek besluit het om eerder nie te studeer by Stellenbosch nie. Ek het met ‘n ongelooflike swaar hart my beurs teruggegee aan die Universiteit van Stellenbosch en my ouers het my kom haal. Daardie aand het ons deur hierdie pas gery, en die berge was aan die brand.
Die vuur het oral om ons gevlam, en dit was skrikwekkend om deur hierdie pas te ry.
Ek sien die Du Toitskloof rivier aan my linkerkant, en ek onthou die een keer toe ons daar as ‘n familie gaan stap het. Ek en my destydse kêrel het vooruit gestap, en toe ons op die einde kom, was daar ‘n Kaapse bobbejaan gesin. Die wyfie het vinnig weggehardloop met haar kleintjie, maar die mannetjie het agtergebly en ons aangegluur. Vir ‘n splitsekonde het dit gelyk of hy ons gaan aanval. Ek het ‘n paar tree teruggevat en saggies gefluister, ‘Ons moet ‘n stok kry.’
My kêrel het net gevries en dis toe ek geweet het: Hy sal my nie kan beskerm nie.
Ek en my ma ry verby Rawsonville, waar ons gebly het vir ‘n kort tydjie. Ons het agter die NG kerk gewoon en daar was so baie vlooie, muskiete en miggies in ons tuin.
Ek sien ATKV se Goudini Spa, waar die naam op die koppie daar gepak is met wit klippe. Ons het gereeld as ‘n gesin daar gaan swem. Dit was altyd heerlik gewees.
Ek sien iets vir die eerste keer raak: die druiwe plase.
‘Ma, hier is druiwe plase. My hemel, ek het dit nooit raakgesien nie.’
My ma vertel vir my dat hierdie gedeelte tussen Rawsonville en Worcester eers ‘n rivier was, en dat dit is hoekom daar so baie klippe is. En dat dit is waar die term ‘Breede Vallei’ vandaan kom.
Ons ry verby die nuwe garage buite die dorp. Daar was jare terug ‘n groot storie oor die ou garage op ‘n onwettiglike plek was. Net langs aan was ‘n groot stuk grond wat my pa wou gekoop het, om ‘n nuwe kerk te bou. Die planne was alreeds opgeteken, die geld was daar. Die mense het bygestaan. Maar dit het toe nie gebeur nie.
Ek sien die area waar my ouers ‘n huis wou bou. Die mall wat gebou is nadat ons die eerste keer weggetrek het uit Worcester. Worcester Gimnasium skool. Die robot waar ‘n ma doodgery is deur ‘n trok en twee jong kinders agtergelaat het. Van Riebeek Park, waar ons lank gewoon het en ek die area platgery het met my fiets. Ons draai af na die Spar toe, die Spar waar ons altyd die heerlikste bagels gekoop het.
Ons stop by die Spar sodat ek vir ons iets kan kry om te drink.
Die wind waai woes. Ek het vergeet van hierdie verdomde wind.
Ons is uiteindelik ‘n ent weg van Worcester. Ek is verlig.
‘Hoekom het ons weer teruggetrek hierna toe?’ vra ek my ma.
‘Oor jou kogleere inplantings,’ antwoord sy.
Dit is tot ‘n mate die waarheid. Ek het in 2013 my eerste kogleere inplanting gekry by Tygerberg Hospitaal, en toe my tweede een in 2015 by Durbanville Mediclinic.
‘Jou pa het dalk in sy agterkop altyd gewonder of hy Worcester ooit moes verlaat het die eerste keer,’ sê my ma.
‘Seker maar so.’
Dit het ons gekos toe ons die tweede keer terugtrek. Voordat ons gegaan het, het ‘n paar besigheidsmanne my pa belowe dat hulle hom sal ondersteun. Ons het daar aangekom, en hulle het net soos mis voor die son verdwyn.
My ouers het weer ‘n gemeente begin by ‘n kwekery. Die mense het gekom, en toe nie meer nie. Ons elkeen het aansoek gedoen vir werk, maar kon nie werk kry nie. Net my boetie en sy vrou kon werk by Steers. Later kon ons nie meer die huur betaal nie. Ons het my motor verkoop, my oorlede ouma se juwele, die tafel tennis, alles en enige iets wat ons kon. Ons het gelewe op die oorskiet kos van Steers wat my boetie huis toe gebring het. Een vrou in ons gemeente het eendag kratte vol kos vir ons gebring. Ons was nog nooit so geseënd nie.
Tussendeur het die wind die heeltyd gewaai.
Ek en my pa het eendag een van die berge gaan uitklim. Toe ons bo kom, het ons ‘n volledige uitsig gehad van Worcester. Van vêr af was dit pragtig, maar as jy te naby kyk, sou jy sien dat die prentjie is nie so mooi nie.
Ek het langs my pa gaan sit op ‘n klip. My pa het die dorp goed geken. Hy het vir my gewys waar alles is, die brandweer-stasie, die Boland gebou, waar ons tans gewoon het.
My pa het vir ‘n ruk lank stil geraak. Ek vra hom toe, ‘Hoekom wil dit hierdie keer nie uitwerk nie?’
‘Ek weet nie, Vicki. Ek kan dit nie verstaan nie.’
Ons het lank net so gesit en gekyk na Worcester.
Na 3 jaar van klippe kou en alles probeer in Worcester, het my ouers ‘n werksaanbod gekry om ‘n gemeente in Johannesburg oor te vat. Ons het dit met albei hande gegryp uit desperaatheid, en Worcester se stof van ons voete afgevee. Nooit weer nie.
Die wind het ons weggewaai.
*
Ons arriveer in Robertson. Ons plekkie is by ‘n AirB&B. Ek en my ma moet die swaar tasse uit die motor laai, die tasse stoot tussendeur die gasvrou se motors, rondom die huis, deur haar huis, totdat ons uiteindelik by ons kamer kom. My knie pyn weer van vooraf en ek is nou regtig nie lus hiervoor nie. As my pa hier was, sou hy dit gedoen het.
Maar hy is nie meer hier nie.
Ek sien daar is ‘n bad in ons badkamer, en ek is oorstelp.
Dis middag en ek wil graag vars wees vir die aand se optrede by die NG Kerk se saal. Ek tap vir my badwater in.
Daar is nie warm water nie.
Ons gasvrou vra om verskoning; die timer was af gewees.
‘Maar daar sal warm water wees vanaand!’
Ek bad maar koud en vinnig. Trek aan, gaan na die funksie toe, doen die Amelia Grace Foundation funksie, kom terug kamer toe, bad weer.
Die water is beter, maar nogsteeds nie warm nie.
Ek bad maar weer vinnig en spring in die bed.
Ek besef: Ek is honger. Daar was ‘n ete gewees by die funksie, maar ek het net bietjie geeët want ek moes nog praat. Ek het darem ‘n kolwyntjie teruggebring; ek verslind my aan dit.
‘Ma, ek is te oud hiervoor. Vreemde dorpe, vreemde kamers en badkamers, vreemde mense en tasse wat gedra moet word.’
My ma lag saam met my. ‘Ja, ons is dalk te oud hiervoor.’
‘Dit was snaaks toe ek 20 was. Ek is nou 30. Het nie meer tyd vir nonsens nie.’
Dit is 11:45. More oggend moet ek en my ma vroeg ry na Gansbaai.
*
Ek en my ma is vroeg op. Ons pak ons tasse en weereens moet ons die tasse om die huis vat, tussendeur die motors en uiteindelik in ons motor laai. Ek het my navy rokkie en hoë hakke aan. Ek verswik my voet. Maar darem kry dit nie seer nie.
Ons gasvrou is dierbaar en maak vir ons elkeen die heerlikste organiese smoothies vir die pad. Sy gee vir ons elkeen ‘n voorskoot as ‘n geskenk. Ons neem fotos.
Ons ry, maar ons vat per ongeluk die Stormsvlei afrit in plaas van Bonnievale. Dit is 4 kilometer van grondpad, maar dis oraait. Ons druk deur.
Daar is kleurling mense buite Stanford wat langs die pad staan en hike. Elkeen hou ‘n R10 noot vas en hou dit op wanneer ons verby ry.
‘Miskien moet ek die venster oopdraai en die geld uit hul hande pluk soos ons verby ry,’ grap ek.
Ek en my ma lag lekker daaroor.
Dit is maar ‘n ent na Gansbaai. Daar aangekom, dit is ongelooflik mooi. ‘n Regte kus dorpie.
‘Dit is hier waar jou pa perlemoen geduik het, toe dit nog wettig was. En dit is ook hier waar oom Roland die perlemoen stukkend gekap het op die sement vloer, en toe is daar stukkies van die sement in al die perlemoen,’ vertel my ma.
Ek onthou dit.
Ons is vyf minute laat vir die Spar funksie. Ons kom daar aan, dit begin dadelik, en die program is vol vanaf 9 uur tot 2 uur die middag. Ons boek in by ‘n gastehuis. Franschoek B&B.
Daar is ‘n heerlike groot bad. Ek bad lank en tap baie warm water in.
Ek is weer honger. Die kos by die Spar funksie was heerlik, maar dit was nie genoeg nie. Ons eet daardie aand by Thyme at Rosemary’s Restaurant.
Ek bestel vir my die black tiger prawns.
Ek vra die waiter, ‘Gaan hierdie kos genoeg wees om my vol te maak?’
Hy lag en sê ja, dit is dan agt prawns saam met die mashed potatoes.
Ek bestel ook vir my ‘n glasie wyn.
My knie voel stukke beter.
*
Albei funksies was ‘n groot sukses – Amelia Grace se funksie se kaartjies was uitverkoop en daar was 14 van my Viva la Vicki boeke verkoop. Die Spar funksie was ook uitverkoop – meer as 300 vrouens het gekom en 8 boeke was verkoop. Daar is mooi getuienisse wat daaruit kom.
Amelia Grace se oumagrootjie: ‘Dankie vir die uitreik na ons klein Amelia!’
Die Spar funksie se emcee – Dieter Voight – vertel dat hy het na my praatjie gevoel hoe dinge losgebreek het binne homself.
Die sanger vir die Spar funksie – Hugo Nieuwoudt – het gesê dat terwyl ek gepraat het, het hy gevoel hoe bagasie van sy rug afval.
Sonja – die fotograaf wat ons fotos geneem het op die strand: ‘My rug voel stukke beter vandag nadat jy en jou ma vir my gebid het!’
Angelique – ‘n jong meise van Gansbaai: ‘Baie baie dankie dat jy vir my die awesomeste raad gegee het oor my niggie wat oorlede is. Ek het dit baie waardeer. Dankie dat jy met ons kom praat het by die Kanker tee.’
*
Ek en my ma staan Sondag oggend vyf uur op. Ons moet 6 uur op die strand wees vir ‘n fotosessie wat iemand vir ons geborg het. Ek is opgewonde; ek wou nou altyd op die strand fotos neem maar het nooit die geleentheid gehad nie. Die wind waai en die water is koud, maar ons druk deur.
Daarna vat ons die pad. Ons gaan Blouberg toe vir ‘n paar dae; ‘n mini-vacation saam met my suster en haar man.
Daarna keer ek en my ma veilig terug huis toe.
*
YOU CAN READ THE GOOGLE ENGLISH TRANSLATION OF THIS ESSAY HERE:
*